Avontuurwedlope
1. Kilimandjaro-halfmarathon
Ek en my vriendin Clare Mangan, het twee jaar gelede aan die Kilimandjaro-halfmarathon in Tanzanië deelgeneem. Dit was ’n wonderlike ervaring en ons hoop om dit weer eendag te kan doen. Die wedloop begin in Moshi en die roete neem jou tot aan die voet van die berg, asemrowend mooi.
2. Sani-halfmarathon
Ons neem jaarliks deel aan die Sani half-marathon, waar die organiseerders ons met 4x4’s die pas opneem, dan moet deelnemers op eie stoom draf of loop tot by die einde, by die Sani Pas hotel. Die wedloop vind in November plaas en die weer kan wissel van ysig koud tot bitter warm. Atlete het ook die keuse om ’n marathon te doen, dit behels ’n halfmarathon van onder by die hotel, tot by die halfpadmerk bo-op die berg, en dan dieselfde roete weer berg-af. Dit is sekerlik een van die moeilkste marathons in ons land!
3. Four Peaks-wedloop
Twee jaar gelede het ons ingeskryf vir die “Four Peaks” wedloop naby Fouriesburg, min wetende dat dit heeltemal ’n ander kategorie wedloop is as waaraan ons gewoond was! Deelnemers kry 9 uur tyd om 27 km te loop, draf en klim! Nie aan te beveel as jy aan hoogtevrees ly nie!
4. Die Harrismith-bergwedloop
Hulle beweer die Harrismith-bergwedloop is die oudste wedloop in Suid-Afrika. Die roete neem jou van die begin by die stadion in die dorp, tot by die voet van Platberg, en dan met ’n smal bergpaadjie tot bo-op Platberg. In ’n stadium is al wat jy kan sien die persoon voor jou se skoene! Om jou te “motiveer” as jy moeg en dors is, so halfpad teen die berg op, is daar ’n groot klip met die woorde, “Nou Begin dit!” op geverf! Bo-op die berg draf deelnemers vir 1 kilometer en dan is dit tyd om weer af te gaan, baie steil en baie eina vir die bene!
5. Knysna Oesterfees-halfmarathon
Alhoewel dit nie ’n berg is nie, voel dit asof jy by ’n berg afdraf, sodra jy uit die bos kom en begin daal na seevlak, tydens die Knysna Oesterfees halfmarathon. Dit is een van die gewildste wedlope in die land en deelnemers sit gereed om in te skryf sodra inskrywings oopmaak, aangesien die aantal deelnemers beperk word.
back to bigfives | Back to top















Comments